‘n Rooi hoed dag … Soms WEET mens hoe gelukkig mens is so met die son op jou lyf en die wind in jou hare en E met ‘n rooi krieket hoed op haar kop tussen al die strandlopers. J het die afgelope week gehelp om nog ‘n sateliet die ruimte in te stuur (ons hoop die ding wentel al), die SA’ners het die krieket gewen, Bush speel nog cowboys en kroeks (gelukkig wil nie almal saamspeel nie), die Rand het gestyg (en gaan dalk weer daal), en ons, ons gaan stap op die strand.
En ons kyk vir die klein kinner lyfies wat oor die sand dobber en honde wat in die lug hang met swemmende pote en bibberende lyfies want basie wil so graag ‘n soutwater- aangepaste hond hê. Sambrele waai om en word deur manlief in die sand IN geboor en waai weer om. En oumens lyfies kom met kieries of met bekini’s verby – afhangende van die plek van herkoms. En wolkies kinners baljaar in die golwe met ‘n oorverdowende gepaardgaande geluidsproduksie.
En ons stap met die son op ons lyf en die water om ons voete en verder weet ons van die wêreld met sy sateliete en cowboys niks. Pa’s en ma’s bou kastele – in die sand en in die lug, verliefdes lag en koer of raas en blaas, die surfers surf en die ander leer surf , en ons stap met die blou lug om ons en die berge voor ons en E het ‘n rooi hoed op en vanaand skryf iemand anders oor haar op hulle website. Voordat die groot res van die Transvalers toesak en nadat ek 3 keer gepiepie het, is ons weer terug Stellenbosch toe – E met ‘n rooi hoed op haar kop en ek met ‘n vuurrooi mantel om my skouers waar daar eers ‘n melkwit velletjie was. Die eenvoud van die lewe…life is beautiful!!
Vanaand het ons geluister na die Libertas Koor se kersprogram en….. ek gebruik woorde uit ‘n gedig:
Here, ek gooi my vreugde soos voëls in die lug op!!