Ons gaan ‘n entjie stap, ons gaan ‘n bietjie rondry, ons beplan ‘n toer, ons vertek op ‘n bootreis, ons droom van ‘n vlug na die maan … Tussen hierdie paar, en nog vele meer, Afrikaanse uitdrukkings vir ‘op reis gaan’, lê daar ‘n magdom verskille verskuil, maar die ooreenkoms tussen hulle almal is: ons gaan weg van hier na daar, na ‘n ander plek; ons verbreed ons leefwêreld, of skuif ons horisonne – en dit is die lewensveranderende waarde van reis!

Ek hoor dadelik die teenargumente: dis te duur, dis verskriklik uitputtend, dit is gevaarlik, ek kyk baie eerder na die pragtige reisprogramme op TV of die idilliese mooi reistydskrifte met hulle glans foto’s. Ja, dis waar – dit is asemrowend, dit gee jou ‘n prentjie van eksotiese plekke waar min van ons ooit sal kom, dit laat ons drome droom van ‘n groter wêreld. Maar niks kom by die voorreg van self reis nie: om jou voete op ander grond neer te sit, om te kruie deur nuwe landskappe, ander diere te sien, nuwe geluide (en stiltes!) te hoor en ander kosse te proe. Reis gee jou die geleentheid om jou te verwonder aan ander maniere van doen, om te kyk in die oë van ‘n ander mens van wie se taal en kultuur jy niks verstaan nie, en te besef: ons is altwee hier – op dieselfde planeet, God se mense…

Sou daar soveel wanbegrip en vooroordeel is die wêreld gewees het, as alle mense die voorreg van reis kon ervaar? Die Afrikaanse spreekwoord sê dit so raak: “Onbekend maak onbemind”! Reis torring aan die oogklappe waarmee ons deur die lewe gaan, reis daag die sekerhede uit waarmee ons ander veroordeel, reis verruim ons binneste en ons kyk na alles om ons.
Die bekende skrywer en joernalis, Mark Twain, het met groot insig opgemerk: “Travel is fatal to prejudice, bigotry, and narrow-mindedness.”

In hierdie blog-rubriek deel ek graag iets van die reis-vreugdes wat ek al gehad het. En ja, dit bly ‘n negosiewinkel-van-ervarings: die een dag reis ek om die blok in die dorpie waar ek woon, die volgende week wend ek my skrede na die ander kant van die aarde; een dag vertrek ek op ‘n uitdagende 4×4 reis in Afrika in, die ander dag sit ek op ‘n supersoniese vlug na ‘n groot wêreldstad.

Mag dit jou inspireer om self te droom – en jou eie drome waar te maak!

Die lewe is ‘n reis – Om te reis, is lewe
– MvZ –