2020 is Oberammergau jaar

Advertensies wat toeriste nooi om te bespreek vir die 2020 toere na die 42ste Passiespel in Oberammergau, neem my gedagtes onwillekeurig terug na my belewenis daarvan nege jaar gelede.

Die Passiespel dateer so ver terug as 1634 (nog voor Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het!), as ‘n belofte aan die Here vir Sy bewaring teen die Groot Pes (Black Plague): niemand in die dorpie het gesterf aan die pes nie, en die inwoners doen hulle belofte sedertdien gestand. Elke jaartal wat eindig op ‘n nul, is Spele-jaar, met een uitsondering: In 1940 is die Spele nie gehou nie as gevolg van die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, maar in 1984 is ‘n ekstra Spele ingewerk (om die 350ste herdenking te vier).

Oberammergau teen die Alpe

2010:

Ons drie toeriste uit Suid-Afrika ry vanaf München met die trein deur die lowergroen Beierse landskap tot by Oberammergau. Die vriendelike huurmotorbestuurder wat ons na ons gastehuis neem, stel haarself voor: “Welcome to Oberammergau – I am Jesus’s mother”. Verstomde stilte – en dit gebeur selde – totdat ons die konteks verreken! Slegs inwoners van die dorp mag deelneem aan die grootse gebeurtenis, nie minder nie as 2000 van hulle: regisseurs, akteurs, koor- en orkeslede, verhoogbetuurders, kleremakers, administratiewe en veiligheidspersoneel, spyseniers, dierehanteerders en so meer. 

Beierse argitektuur

Die dag voor die Spele is ons volbloed-toeriste: besigtig die tradisionele Beierse argitektuur, blombakke vol kleurvolle malvas, geverfde fasades, pragtige houtsneewerk, ‘tourist trap’-winkeltjies met aandenkings, eetplekkies met onweerstaanbare Duitse fyngebak. 

Alles in die dorp vertel die verhaal
Kunstig versierde geboue
Drie-dimensionele illusie…

Spele-dag stap ons na die teater: verby die skool waar die kinders vrolik op die speelgrond rondhardloop – en ons wonder watter van hulle gaan netnou op die verhoog Joodse kindertjies word wat (regte!!) skape en bokke aanjaag deur die strate van Jerusalem? Ons stap verby die winkel waar ‘Josef’ met sy baard, waaraan hy waarskynlik die hele jaar gegroei het, skaaf en vyl aan ‘n kunstige houtkruis. ‘n Fiets swiep by ons verby, die ryer se lang hare en sy handgemaakte, grofgeweefde Joodse kleed wapper in die bries – twee uur later herken ons hom op die verhoog as Johannes, Jesus se geliefde dissipel…  Dit raak ‘n surrealistiese dag van eeue-oue geskiedenis en ‘n twintigste eeuse werklikheid, van realiteit en spiritualiteit.

Soggens kunstenaar, daarna akteur

In Oberammergau se moderne teater kan 4700 toeskouers onderdak sit, maar die verhoog met die Duitse Alpe as agtergrond, is oop na die hemele – ‘n onvergeetlike gesig. Die kosmopolitiese gehoor kom vanuit alle lande, alle tale, alle nasies op die aardbol – hier in die hart van Europa saamgetrek rondom die lyding van Jesus Christus. Alhoewel die produksie in Duits is, kry alle nie-Duitssprekende toeskouers boekies in ander tale. Aan die begin probeer mense met kopliggies en klein flitsies die teks volg, maar gelukkig raak hulle so gou ingetrek in die visuele skouspel, die uitstekende koorsang, die drama wat voor jou oë ontvou, dat hulle die liggies wegbêre. Ons kyk na die bekende ou-ou verhaal met die verwondering van mense wat dit vir die eerste keer sien en hoor en beleef … 

Kunswerke by die teater

Na twee-en’n-halfuur is daar ‘n welkome drie ure pouse: ons rek bene, eet iets, gesels met mense wat ons nog nooit gesien het en waarskynlik nooit weer sal sien nie – die indrukke is oorweldigend, mens moet dit deel. Ons gaan terug teater toe: dis nou aand, die donker hemel bo die verhoog vorm die volmaakte agtergrond vir die intense gebeure wat in die volgende twee-en-‘n-halfuur op die verhoog afspeel. Ons stap in stilte na ‘n kerk in die dorpie vir stille nadenke oor dit wat ons in die Passiespel ervaar het… 

Stilword en nadink…

Die Oberammergau Passiespel was nie op my emmer-skop-lys nie, dit was ‘n sameloop van omstandighede wat gelei het na daardie klein Duitse dorpie … en dit het ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak!

– MvZ –