Maandag, 2 Desember 2002

Op ‘n dag word die kapstok vir die hoede tog weer ‘n surfbord en dit dalk op my veertigste.  Die wêreld bly vol rooi en saam met dit die leef van lewe.  Ons het laatmiddag die fliek “Life or something like it gaan kyk” en die grootste kuns is waarskynlik om aan die einde van die journey ‘n ‘Life’ te gehad het en nie “something like it” nie.  Mens droom soms oor die Chreysler of die Dune Beetle maar gelukkig sien mens ook die bloedrooi blomblaar op die gras…
Gratis is nie noodwendig goedkoop nie want kyk kos tyd en oor tyd moet mens besluit. 

Ek is nou byna lus en skryf iets oor beskuit want dit sou mooi rym, so: daarom drink ons soggens eers rustig 2 koppies koffie met beskuit.
Dit klink of vandag so ‘n sagbou vredige dag was, maar NATUURLIK NIE!!  Die bergies het weer die swart sakke van die studente oopgeskeur  en ons tel plastieksakke en papiere en anner mense se ……. op. Ek bel die beheerliggaam van Z Woonstelle om te laat weet dat die studente die vensters oopgelos het en die wind dit gaan verander in bloeddrukstygende apparatuur met die klap-klap die hele nag en ek kry ‘n persoon aan die lyn wat JUIS OP DAARDIE MOMENT haar breinsel vir iemand anners uitgeleen het.  Ek bel (vir die TIENDE keer) die beheerliggaam van L Beach want hulle kry maar net nie hulle somme reg nie en ek weet volgende maand moet ek weer bel!!!
Maar E bly kalm en sê ek moet sê as ek iets sien wat ons moet afneem en ek sê my skouers brand ons moet LOOP.  Gelukkig sien ons die blomrooi en sy stop die kamera in my hand en ek vergeet van die onbelangrike bloeddrukstygende dingetjies en ek weet die lug is sag blou.